ADSA Advertisement Service for the Christian Community

Reken nou net! 10

 

 Opgedateer: 29 September 2008 ** Updated: September 29, 2008

Soek in hierdie webwerf  

Search this site  

 

 

Interessante wetenswaardighede en ditjies en datjies

 

 

Die mens en sy dinge 3

 

 

Die Bybel

Die Bybel is een van die mees belangrikste boeke in die wêreld en die mees belangrikste vir Christene. Die Woord is God se liefdesbrief aan Sy kinders en een van die hoofbronne waaruit gelowiges se geloofslewe gevorm en verryk word.

Deur eeue heen was die inhoud van die Bybel die rigtingwyser na en openbaring van wat God aan Sy kinders wil gee, naamlik die ewige lewe. Die Ou Testament is die vooruitskouing van die beloftes, terwyl die Nuwe Testament van die vervulling van die beloftes vertel. Die Ou Testament wys na die Saligmaker en Verlosser, naamlik Jesus Christus, se koms, terwyl die Nuwe Testament vertel van Jesus se geboorte en uiteindelik Sy kruisdood en opstanding.

Hoewel die hele Bybel vol lesse en waarhede is, het baie mense al getuig van die direkte en geweldige impak wat slegs gedeeltes of teksverse op hulle lewens gehad het. Watter gelowige weet nie van die Herderspsalm van Dawid (Psalm 23) en hoe dit mens kan bemoedig in tye van bekommernis nie? Romeine 8, wat vir die meeste gelowiges een van hulle bekendste en geliefste Bybelhoofstukke is, het groot impak gehad vir Maarten Luther, een van die groot helde van Hervorming. Korinthiërs 13 word deur talle paartjies tydens die huweliksgelofte gebruik en teksverse soos Johannes 3:16 het een van die refreine geword van menige sendelinge, om sodoende mense na God en Sy ewige koninkryk te lei.

Die Bybel is deesdae in baie tale beskikbaar. Dit help dat mense wat die Bybel beter wil ondersoek, die Bybelinhoud van verskeie hoeke af kan benader en bestudeer en gevolglik ook meer te wete kan kom van God se doel met ons lewens.

Wat 'n voorreg as mens kan lees, die Bybel besit en God daagliks so kan nader. Dit sal altyd tot mens se voordeel wees. Soos dit in Jesaja staan: "...so sal My Woord wees wat uit My mond uitgaan: dit sal nie leeg na My terugkeer nie, maar doen wat My behaag en voorspoedig wees in alles waartoe Ek dit stuur." (Jesaja 55:11)

Lees meer by enige van die volgende:
 
Vertalings en elektroniese hulpmiddels
Bekering
Hervorming

 

 

Hervorming

Hierdie belangrike tydperk, wat ongeveer van die 15de tot 17de eeu geduur het, is van ingrypende belang vir Protestante. Uit die algemene veranderinge op sosiale, politieke en staatsvlak in Europa, het groot dinge ontwikkel, wat algemene, maar ook geestelike hervorming, te weeg sou bring.

Belangrike faktore was oa dat die mens se kennis begin toeneem het en tot ondersoeke, selfstudie en selfstandige denke gelei het. Meer mense het self begin lees en skryf. Die situasie is ook verder aangestu deur die ontdekking en gebruik van die drukpers. Dit het daartoe gelei dat kopieë van boekeksemplare veel makliker gemaak kon word as vorige hand oorgeskrewe geskrifte. Kennis en inligting kon gevolglik baie vinniger, akkurater en veelvoudiger versprei. Natuurlik was Bybels ook deel van hierdie groep geskrifte. Die verspreiding van Bybels het baie verbeter en daarmee saam ook kennis van die inhoud en waarheid daarvan.

Die dwaling en verdoeseling van die waarhede van die Skrif deur Roomse geestelikes van daardie tyd, het teëstand van mense gekry wat dit ernstig met God en Sy gebod bedoel het. So was daar Johannes Hus (1373-1415) wat vir sy kennis van Gods Woord en sy geloof in die waarheid van die Skrif, op die brandstapel gesterf het. Sy sterwenswoorde was: "In 'n 100 jaar sal God 'n man oprig wie se uitroep vir hervorming nie onderdruk sal kan word nie". Die vloeiende bloed van Christen-martelare roep uit om geregtigheid en die vlam van Hervorming het begin. Die kettings van ontoeganklikheid, dwaling, onkunde en duisternis sou verbreek word. Dit geskied deur daardie groeiende groep persone wat self begin lees en leer het uit die oorspronlike tale soos Grieks en Hebreeus. Hulle kennis van die tale en die inhoud van die Bybel lei hulle tot die begeerte om te werk vir hervorming in die kerk en op geestelike gebied.

Mense soos Luther, Wycliffe en Calvyn het almal begin werk om die Woord uit te dra na die gewone volk en ook in hul eie onderskeidelike moedertale. Latyn en Hebreeus is vervang in kerkdienste en die volkstaal is gebruik vir preke en sang, ipv. die ou tale. Psalms en gesange, dus geestelike liedere en Hallelujas, is geskryf in die volkstaal en geestelikes het boeke in die algemene spreekstale begin skryf om hul kennis, insig en opinies te deel met ander gelowiges.

Maarten Luther (1483-1546) was 'n monnik wat skerp gekant was en hom vurige en openlik uitgespreek het oor die verkoop van aflate (kwytskelding van straf vir sonde deur betaling), wat deel van die algemene gebruik in die Rooms-Katolieke kerk was. Toe die pous Luther daaroor veroordeel, het Luther uiteindelik op Sondag-oggend 31 Oktober 1517 sy bekende 95 stellings teen die kerkdeur gaan vaspen om sy onvergenoegdheid sodoende te kenne te gee. Dié belangrike gebeurtenis was 102 jaar na Johannes Hus se dood. Sy sterwenswoorde is bewaarheid en met Luther het die Hervorming 'n deurbraak gemaak wat nie gestuit kon word nie.

Omdat Luther 'n gelowige en kundige Bybelkenner was, het hy goed geweet dat mens nie deur werke of geld jou verlossing kan bewerkstellig of koop nie, maar dat slegs die dood van ons Here Jesus Christus aan die kruis ons redding kan bewerkstellig. Geen aflaatbriefie kon Jesus se genadegawe van Sy kruisdood vervang nie.

In 1520 verbrand Luther die banvloek wat deur die pous aan hom gestuur was in die openbaar en breek dus finaal met die Roomse kerk. Met dié gebeure in Desember 1520, word hy die vader van die Hervorming in Duitsland en ontstaan Prostestantisme.

In 1521 met die Ryksdag te Worms, verskyn Luther voor die keiser waar hy beveel word om alles wat hy geskryf het terug te trek. Die volgende dag maak hy sy beroemde stelling: “Tensy ek deur getuienisse uit die Heilige Skrif of deur duidelike bewyse oortuig word ... kan en sal ek niks herroep nie, want dit is verkeerd en gevaarlik om teen die gewete te handel. Hier staan ek! Ek kan nie anders nie! Mag God my help! Amen."

Maarten Luther vertaal later te Wittenberg die Bybel in Duits en skryf ook etlike boeke en geestelike liedere waarvan “'n Vaste burg is ons God” baie bekend is.

In ander dele van Europa sou nog manne soos Luther na vore tree wat die diep en innige begeerte gehad het om die waarhede uit die Bybel te put en met andere te deel. Groot name by godsdienshervorming is Calvyn, wat in Frankryk en Holland die leiding aan die beweging gegee het, Knox in Skotland en Zwingli, wat sy eie kerk in Zürich in Switserland stig. In Engeland was dit John Wycliffe, wie se invloed uiteindelik sou lei tot Coverdale en Tyndale se vertalings van die Bybel na Engels.

Natuurlik het die vervolging van Protestante in Europa en gebeure soos dié van die Bartholomeusdag-Slagting ook daartoe gelei dat baie van ons voorouers uit daardie gebiede gevlug het en 'n nuwe heenkome in Suid-Afrika gaan soek het, waar hulle hul geloof kon uitleef. Die Calvinistiese invloed op ons geloofslewe is geensins te betwyfele nie.

Die Afrikaanse Bybel wat in 1933 verskyn, is vertaal vanaf die oorspronklike Grieks en Hebreeus. Name wat belangrik is om te noem tov die Afrikaanse Bybelvertaling van 1933, is Totius, dr. Keet, ds. Van Rooyen en dr. Fourie. Taaladviseurs was oa. mense soos Malherbe, Smith en Boshoff.

Vir die martelare wat hul goed en bloed gegee het, sodat ons ons Bybels daagliks in ons eie moedertaal, nl. Afrikaans, kan lees en bestudeer, sal ons kwalik woorde van dank kan hê. Vir mense wat met mannemoed en leeueharte opgestaan het en God's Woord weer ongeveins en oop en suiwer deurgegee het, kan mens net ons Here loof en dank. Dié gebeure het daartoe gelei dat ons as gelowiges enige tyd van die dag ons Bybel kan oopmaak en lees wat God se Woord ons wil leer.

Meer inligting by:

www.reformation.org
http://history.hanover.edu
www.greatsite.com (Johannes Hus)
 

 
Ligtorings, Vuurtorings of Ligbakens (Ook soms genoem lighuise)

Ligtorings en hul vuurtoringwagters word oral oor die wêreld aangetref om groot waterweë en seestrate of seegebiede vir die seevaarder veiliger te probeer maak.

So tref mens byvoorbeeld langs die groot mere van Noord-Amerika talle ligtorings aan. Lake Ontario het onder andere die Old Fort-ligtoring met sy kasteelagtige voorkoms. Een van die oudste aktiewe ligtorings by Lake Erie, is Marblehead-ligtoring wat in 1822 gebou was. Lake Superior het verskeie ligtorings, insluitend die Sandeiland-ligtoring, die Raspberry-ligtorings en die Marquette Hawe ligtoring op die Apostle-eilande asook die Passage Island en Rock of Ages-ligtorings.


Kliek foto vir groter weergawe

Aan die Noordwestelike kus van Kanada kry mens 'n magdom vuurtorings. Daar is die pragtige Triple Island-ligtoring en die Pine Island se ligtoring in die noord-westelike deel van die besondere mooi Queen Charlotte Straat. Waar die golwe woes teen die weste van Vancouvereiland slaan, is die Pachena Point-vuurtoring.

Sommige vuurtorings van ouds, is vervang met ligbakens en ander is geoutomatiseer, soos bv. die Brockton Point-ligtoring wat in die Vancouver-hawe is.

Die hoofdoel van ligtorings is om mense op see, of op ander groot waterweë, soos groot mere, te waarsku van gevaarpunte, soos hoogliggende rotse, seebanke of ander bedreigings, wat tot die sink van 'n seevaartuig mag lei. Vuurtorings vergemaklik ook die ingange by hawes.

Ligtorings se geskiedenis trap al eeue lank diep voetspore en een van die bekende vuurtorings in die Antieke geskiedenis, was die Alexandria-Vuurtoring. Dit was beskou as een van die sewe wonders van die antieke tyd en die vuurtoring het ook bekend gestaan as die Pharos van Alexandria. Dit is na bewering in die 1300's in 'n aardbewing vernietig.

Ligtorings het talle argitektoniese style. Vanaf ronde en kegelagtige torings, tot blokkige geboue soos die Neuwerkeiland-ligtoring in Hamburg, Duitsland. Sommiges het mooi kasteelagtige geboue by die toring, soos die Byron Bay-vuurtoring in Nieu-Suid-Wallis, Australië. Ander het gedenkwaardige dele om te besoek, soos die imposante Bengtskär, met sy museum, wat geleë is in Finland.


Iles de la Madeleine
Kliek foto vir groter weergawe

Die boumateriaal wissel ook baie en weens die aard van die aanvanklike doel van ligtorings, is hulle meestal op baie gevaarlike, ongerieflike en besondere plekke gebou. Dus, baie vuurtorings of ligtorings is op uitstaande rots gedeeltes gebou. 'n Voorbeeld hiervan is die bekende ligtoring by Peggy's Point in Nova Scotia (Kanada). Ander ligtorings is soms omring met water en gebou op rotsagtige dele wat net onder die watervlak versteek is, soos die Eddystone-Ligtoring, wat mense van die gevaarlike Eddystone-Rotse moet bewus maak.


Peggy's Cove
Kliek foto vir groter weergawe

Vuurtorings het in die antieke tyd van vuur en sonlig en later van lampe tesame met spieëls gebruik gemaak om die ligtoring se lig te laat vertoon. Die beginsel van die konsentrasie van ligstrale is gebruik en later met behulp van 'n lens (Fresnel-lens) verbeter. In die ouer torings was 'n soort horlosie-apparaat gebruik om die omwenteling en draai-effek van die lig op gereelde basis te roteer. Die tipiese horing is geblaas in stormagtige en mistige weer.

Daar is, weens die beter werking en effektiwiteit, in sommige plekke twee ligtorings naby mekaar gebruik, wat dan die meting vir die vaarder vergemaklik het. Hierdie twee-toring-tegniek is al so vroeg as die 1830's in Europa ontwikkel.

Deesdae is daar beide bemande en onbemande ligtorings, asook ligbakens, omdat die tegnologiese ontwikkeling dit toelaat. Natuurlik is sommiges ook geoutomatiseer om die funksies te verrig.

Met die koms van die Global Positioning System (GPS), het die aard van seevaart baie verander en het baie ligtorings geoutomatiseer of in onbruik geraak. Ligtoringbewoners het ook al hoe minder geword, of die rol van sulkes het meer verander na noodredding. Natuurlik het sommige ligtorings ook besienswaardighede vir toeriste geword, soos die Cabo Branco-ligtoring wat aan die mees suidelike punt van Suid-Amerika geleë is.

Of ligtorings nou nie meer hoogty vier nie, of nie, hulle bly mooi en besondere geboue, wat sekerlik tot groot verligting gelei het vir die seevaarder en sy bemanning tydens stormagtige weer.

Meer inligting oor lig- of vuurtorings:

www.lighthousegetaway.com (mooi foto's)
www.fogwhistle.ca (Vir 'n hele aantal ligtorings aan die westelike kus van Kanada)
www.trinityhouse.co.uk (Engeland)
www.lighthousegetaway.com (Fresnellens)

 

 

Tegnologiese Ontwikkeling

Tegnologiese ontwikkeling beïnvloed alle terreine van ons daaglikse doen en lates en bring groot waardetoevoeging tot ons lewens. Voorbeelde hiervan is onder andere gebiede soos die werksplek, die huis, voedselbedryf, omgewingsbewaring, mediese bedryf, boerdery, kuns, vermaak, opvoeding en talle meer.ADSA: Tegnologiese ontwikkeling

Kom ons begin by die werksplekke se tegnologiese ontwikkelings. Dié plekke waar ons ons brood verdien, het baie verander as gevolg van hierdie ontwikkeling. By die werksplek is rekenaars, Internetverbinding en die gebruik van talle meegaande apparate, masjienerie, implemente en instrumente deel van die normale daaglikse roetine. Dit word veral gebruik vir die verbetering van veiligheid, die beste prestasie van werkers in tandem met die nuwe tegnologie, om sodoende die grootste moontlike produktiwiteit te probeer verkry. Daarmee saam help tegnologiese ontwikkeling ook om die mikpunt vir beter kwaliteit produkte, dienste en algemene verkope uitgebrei te kry. 'n Doelgerigte sagteware-program geskoei, ontwerp en ontwikkel vir 'n sekere taak of aantal take, kan byvoorbeeld baie prosesse in fabrieke, die landbou of talle ander bedrywe beheer. Dit laat werkers dan vry om ander meer intensiewe en ingewikkelder werk te doen, waar oordeel en ander insette nodig is. Die sleurwerk kan dus aan die masjien oorgelaat word, sodat die masjien en rekenaar kan doen waarvoor dit eintlik baie goed is, naamlik outomaat of robot wees.

Een van die belangrikste areas waar tegnologiese ontwikkeling 'n impak gemaak het, is opvoeding en opleiding. Die gebruik van rekenaars, die Internet, asook ander tegnologiese hulpmiddels soos kamera's, mikroskope, video's en so meer, bring die inligting met groter besonderhede tot by die student. Die klaskamers is gevul met rekenaars, drukkers, videomasjiene en talle ander dinge. Dis alles hulpmiddels vir onderwysers, ouers en opvoeders om die student se ontwikkeling aan te help. Goeie kommunikasie en hantering van daaglikse sosiale samesyn help die kind om in 'n geronde volwassene te ontwikkel. Langafstand onderrig het reeds gerealiseer en word al hoe meer toegepas.

Tegnologiese vordering op die ruimtevaart-gebied het bygedra tot die maanlanding, asook ander navorsings-sendings van satelliete na ander planete soos Mars. Die tegnologie wat uit hierdie projekte voortspruit, asook van die inligting wat op daardie reise versamel en ingewin word, word later in ons daaglikse produkte en dienste gebruik. Dit is veral op mediese en chemiese en elektroniese gebiede wat hierdie inligting van groot waarde is en toegepas word.

Weerberigte en weernavorsing baat geweldig by die hedendaagse tegnologie. Met die talle satelliete wat geduring wentel om die aarde, het die navorsing van weertoestande en weerpatrone, asook ander natuurverskynsels soos die auroras, monsteragtige storms en weerlig moontlik geword. Die baan wat winde (jetstreams) om die aarde neem, asook ander invloede van hitte, vulkane, besoedeling, vure en so voorts, op die weerstoestande, het ook met behulp van satelliet-terugvoere moontlik geword. Weerstoestande kan dus vir dae vooruit bestudeer en met behulp van verskeie metings beraam word. Dit lei dan tot redelik akurate weervoorspellings, wat eintlik maar net weerberamings genoem kan word. Wetenskaplikes en weerkundiges wend dus hul kennis, gebou uit vorige ervarings van weerpatrone aan. Sulke weerpatrone wat deur etlike jare gedokumenteer was, asook vandag se tegnologie soos 'n wêreldwye netwerk van barometers, windmeters en so meer, wat veel meer akkuraat kan meet, maak dan saam so 'n beraming vir komende dae moontlik. Hierdie vooruitskattings word gedoen met gesofistikeerde rekenaarmodelle van die atmosfeer, met inagname van geskiedkundige waardes. Sulke beramings is veral van groot waarde in orkaangebiede en natuurlik vir navorsers wat byvoorbeeld na koue gebiede toe moet gaan in die pole. Die publiek kan vooraf gewaarsku word van verwagtinge van groot sneeu- of reënstorms, hoë spoed winde of tornado's.

Die voedselbedryf is nog 'n gebied wat in groot mate deur hedendaagse tegnologie beïnvloed word. Tegnologie soos die GPS stelsels word met groot sukses in die visbedryf gebruik. So kan groot skole vis waargeneem en benut word. Kweekhuise word aan die gang gehou en voedsel met talle nuwe hibrides word gekweek en ontwikkel. Voedsel se inhoud kan ook deesdae tot in die fynste besonderhede met sukses bepaal word. Die uitbreek van siektes en die bekamping daarvan is dus makliker om te hanteer. Massaproduksie van graan, vrugte en groente het 'n móét geword, omdat baie mense in groot stede woon en werk. Sommige lande het droogte en hongersnood en voedsel word dan soontoe uitgevoer. Voedsel moet met sorg hanteer word totdat dit die koper bereik. Tegnologie word ook daar ingespan om voedsel behoorlik te pluk, verwerk, te verpak, te berg en te vervoer.

Boerderybedrywe baat ook by die verbetering op tegnologiese gebied. Groter masjienerie, die beter benutting van hulpbronne soos water, grond en navorsing oor die spesifieke en meelopende gebiede wat die bedryf beïnvloed, asook die hulp van rekenaars wat inligting oor weer, markte en handel, plante- en diere, asook gebeure in die buiteland en ander mediadekkings, met die kliek van 'n muis beskikbaar kan stel, is alles dinge wat die boerdery behulpsaam is. Die bou van damme en die ontwikkeling van besonder plante en kudde rasse en die beter opleiding van boere, hul werkers en professionele personeel soos veeartse, is ook ter sprake.

Omgewingsbewaring, so eienaardig as wat dit mag klink, baat by tegnologie veral met die Internet, TV media asook videomateriaal wat as bewyse van sulke omgewings- of natuurmisbruike kan dien. Dan is daar ook die herwinning van bruikbare afvalmateriaal soos karton, plastiek en glas. Tegnologie help ook met die beste benutting van huidige hulpbronne. Daar word deesdae baie gepraat oor besoedeling, die osoonlaag en die misbruik van die aarde se baie belangrike bronne soos water, land en see. Besoedelde water, grond en lug is vir almal 'n gevaar en almal moet meewerk om ons leefruimtes en die omgewing so goed moontlik te probeer bewaar. Behoorlike benutting van tegnologie kan hier ook ingespan word om te verhoed dat pragtige natuurgebied eenvoudig net in kaalgestroopte mynhope of 'n woestyn ontaard. Daar is byvoorbeeld in Israel baie gedoen deur woestyngebiede te begin terugwin deur die korrekte aanplantings te maak en drupbesproeiing te gebruik. In lande met groot woude word houtkappers en groot houtmaatskappye soms gedwing om herplantings te doen, sodat boomgebiede weer gedeeltelik herwin kan word. Omgewingsvriendelike ontwikkelaars wat groen gebiede laat, of selfs behoorlik inrig vir nuwe intrekkers in die splinternuwe woongebiede, bly skaars, maar dié van hulle wat wel hierdie weg gevolg het, help gemeenskappe om beter te leef en te werk.

By argitektuur is die aanwending van goeie tegnologie van lewensbelang. Geboue, paaie, tonnels, huise en ander soort argitektoniese werke moet veilig wees. Korrek gebou met die regte materiaal en in die regte verhoudings, met alle veiligheidsaspekte soos beskikbare uitgange in noodgevalle, brandbestryding en talle ander veiligheidsfaktore, bly van uiterste belang en is meetbaar met vandag se tegnologie. Swak geboude strukture kan intuimel en lei dan dikwels tot lewensverlies.

Die mens kan tegnologie gebruik om beter en gesonder energiebenuttings te vind. Daar is bv. windlaaiers, gety-kragopwekkers, beter ontwerpte stede en geboue. Sonpanele wat sonkrag kan omsit in elektriese energie ens. Dit alles dra by tot omgewingsvriendelike energieopwekking.

Vir die hedendaagse huisvrou is die mikrogolf, yskas, en watergeriewe in die huis dalk iets alledaags, maar vir oer-oumagrootjie sou dit 'n fees gewees het. Ons geslag is bevoorreg om sulke apparate te hê wat ons lewens vergemaklik. Die dae wat water aangery moes word met die wa, is nog duidelik in sommige se geheues. Wat huishoudelike apparate betref, het dinge baie verander en deesdae is daar selfs die moontlikheid van robotte om huiswerk en ander nuttige takies te verrig. Dis nou wel by sommige van ons net 'n droom, omdat hierdie ontwikkeling nog in sy babaskoentjies is, maar die hoop beskaam nie. Die gedienstige ASIMO het blykbaar ook nou sy robothondjie gekry. In samewerking met die rekenaarontwikkeling, waar sagte- en hardeware 'n kragtige span vorm, het byna alle dele van die samelewing 'n gedaantewisseling ondergaan. Elektrisiteit het 'n groot omwenteling gemaak in die mens se lewe en met die rekenaar wat al hoe groter rol in die gewone huishouding begin speel, is die volgende fase van omwenteling nou weer aan die gang, veral omdat dit die Internet-invloed ook nou by kry.

Kuns, vermaak en tydverdryf, soos toerisme en talle sportgebiede, gebruik tegnologie om al hoe gewilder produkte en dienste te probeer skep. Sportdeelnemers het deesdae al hoe beter apparaat en tegnieke en navorsing kan van 'n gewone atleet 'n kampioen maak, as die waarnemings en tegnologie reg ingespan word. By hierdie gebied sluit aan die tekstielbedryf, waar klere met behulp van programme uitgeknip en gemaak word en massaproduksie sodoende bereik word. Kunsleer, kunspêrels en kunsdiamante is maklik bekombaar. Alles aan tegnologie-ontwikkeling te danke.

'n Baie belangrike deel van tegnologie, wat mens deesdae al hoe meer verstom, is die besondere groei op mediese gebied. Navorsing het baie probleme opgelos, verlig of uitgewys en daar word natuurlik daagliks gesoek na oplossings vir ernstige siektes of dinge wat mens se lewensgehalte kan bevorder. Die ouer geslag het die tyd van die eerste hartoorplanting beleef, maar deesdae is baie meer gevorderde dinge al gedoen. Die mens se genetiese samestelling of te wel die sogenaamde “genome”, is vasgestel en daarmee saam kom baie navorsing en mededelings van genetiese merkers, wat onder andere dinge soos oordraaglike siektes, ander oorerwingsfaktore en soortgelyke dinge bepaal. Nuwe ontwikkelings op hierdie gebied help ook met forensiese wetenskap. Hierdie studie het 'n doel in wetstoepassing, waar misdadigers se DNA gevind en gebruik kan word om wetsoortreders aan te keer en te straf vir hul oortredings.

Ons almal weet watter belangrike rol tegnologiese ontwikkeling in die ekonomie en handel speel. Kitsbanke, aanlyn-bankdienste, kettingwinkels en die handel op die Internet, in markte wat voorheen nie so maklik vir die eenmansaak of privaat persoon bekombaar was nie, is nou alledaags.

ADSA: Tegnologiese ontwikkeling Die vervoerbedryf wat insluit moltreine, lughawes, ruimtevaart, skeepvaart, kanale en hawens speel 'n uiters belangrike rol by veral die vervoer van noodsaaklike middele, soos voedsel, medisynes en hulppersoneel na rampgebiede.

Laaste maar nie die minste nie, is die kommunikasiemedia, soos die Internet, radio, TV en telefoonverbindings. Ons almal weet watter uiters belangrike plek goeie kommunikasie en behoorlike beriggewing speel. Dit kan lewens en geld spaar. Die snel waarskuwings van mense in gevaar as veldbrande of 'n getygolf oppad is, is byvoorbeeld van lewens belang. Waarskuwings met behulp van die TV, radio, die telefoon, of die Internet, het al dikwels 'n impak gemaak op die behoud van menselewens. Die maklike beskikbaarheid van video maak ook dat meer sienings van 'n saak of sekere gebeure afgeneem en vertoon word aan die publiek en besoekers op die Internet. Dit lei weer tot beter kennis of inligting. Die beter mediaapparaat en geleenthede wat die Internet bied, help dat mense inligting en geleenthede veel, veel makliker kan deel. Wetenskaplike inligting, nuus en ook terugvoer oor produkte en dienste. “Kennis is mag”, sê die ou gesegde. Die geweldige ontploffing wat die mediategnologie in die algemeen gehad het as gevolg van die Internetbedryf, het daardie gesegde herbevestig.

Eens op 'n tyd het mense op donkiekarretjies skooltoe gery en nie in 'n vuurwa nie. Telefone was net by die meer gegoedes te vind en het met 'n handslingertjie en handsentrale gewerk. Lense was iets wat in vergrootglase en mikroskope gevind was, terwyl mens deesdae sagte, baie dun en buigsame lense, kleiner as 'n klein muntstukkie kry wat jy op jou oog plaas en kan gebruik om beter te sien. Die mens het sy eerste ruimtevaarders maan toe gestuur en daar was al 'n Mars-landing.

Ons is baie dank verskuldig aan al die mense wat ons lewens kom verbeter, vergemaklik en bevorder het met al die tegnologiese ontwikkelings in hul besondere gebiede. BAIE DANKIE aan die duisende ingenieurs, talle dokters, grosse navorsers, begenadigde ontdekkers en brawe avonturiers wat die buitelyne van die kringe van kennis getoets en beter leer ken het. En dit dan nog gedurig met ons kom deel. Hulle het ons lewens kom verryk en sterk ons hande in die talle belangrike take wat onsself moet doen, of ons nou meester, baas of Klaas is.

 

 
Argitektuur
Die tema Argitektuur, is nie so eenvoudig as wat mens aanvanklik mag dink nie. Daar kan hoofstukke en boeke geskryf word oor die onderwerp.

Van die vroegste tye af het die mens die begeerte gehad om meer permanente skuiling te hê of om strukture te hê waar daar met groter veiligheid teen die elemente, vyande of gevaar geskuil kan word. Mens lees in Génesis 11 van die maak van die vroegste boumateriaal naamlik, stene. Die mens se begeerte om 'n hemelhoë toring te bou, word van vertel in Génesis 13 (Toring van Babel). Tydens die bouwerke van Salomo om die tempel, die paleise en stede te bou, word daar nogal baie van die soort beplannings, bouplanne, hout, klip, bouers en hul werksmetodes en selfs die ontwerpers, wat die versierings moes ontwerp, gepraat. (1 Konings 5 tot 9)

 


Kliek foto vir groter weergawe
Plattelandse houthuis

Dorpies en stede het deels ontwikkel, omdat 'n groep mense makliker hulself kon beskerm teen gevare as wat enkelinge daarin kon slaag. Die behoorlike bou van poorte, stadsmure, toegangsbrûe, uitkyk- of wagtorings, die waterkanale, ens, het dus alles groot waarde gehad in die verlede. So lees mens byvoorbeeld van Nehemía en sy stryd om die mure van Jerusalem herstel te kry, sodat sy volk weer in veiligheid kon woon. (Nehemía 3 tot 5)
 
Argitektuur is die skep van strukture, die wetenskap van aspekte soos grootte, vorm en doel daar rondom, maar in meeste gevalle ook die estetiese of voorkoms van so 'n skepping. Argitektuur sluit nie net in geboue nie, maar ook ander stukture soos brûe, paaie, die uitleg van 'n stad of dorp en alle dele rondom dit. Argitektuur is nie net doelmatig nie, maar vertoon ook iets van die tyd waarin die voorbeelde van 'n styl geskep en gebruik was. Dinge soos die doel van die gebou, kultuur, klimaat en beskikbare hulpbronne in die omgewing, het baie te make met die keuses van die argitektoniese beplanning van 'n gebou of groep geboue en selfs 'n stadsgebied, voorstad of dorp.
 
As mens dink aan voorbeelde van indrukwekkende argitektuur kom baie imposante strukture in die gedagtes, soos die muur van China, wolkekrabbers, damme en kanale, sterrewag-geboue, vuurtorings, lughawens en ruimtestasies, tonnels, sportstadions, torings, katedrale, paleise, die piramides en die sfinks by Giza, tempels, monumente en talle ander groot strukture.


Kliek foto vir groter weergawe
Gedeelte van die muur van China

 
Die belangrikste kenmerke van die Antieke argitektuur, is die voorkoms en gebruik van suile of pilare. 'n Suil met die kapiteel wat die argitraaf met sy fries en fronton of kroonlys stut, is tipiese van dié tyd. Die drie belangrikste style in ontwerpe van Griekse pilare in die Antieke tyd was die Doriese pilare met die basiese pilare en pragtige versierings in die fries-gedeelte. Tweedens was daar die Ioniese styl met die tipiese gekrulde deel by die kapiteel en derdens was daar die Korinthiese styl wat ingewikkelde patrone en baie versierings in die kapiteel gehad het. Die marmer tempelgebou op die Akropolis in Athene, naamlik die Parthenon, is tipiese van die Antieke Doriese styl.

Die sewe wonders van die Antieke tyd was almal groot strukture, wat oa ingesluit het die Vuurtoring van Alexandrië (Pharos), die Hangende tuine van Babilon, die Kolossus van Rhodos, wat 'n hawe ingang was en die piramides in Egipte.

 


Kliek foto vir groter weergawe
Roosvenster
(deel van 'n Gotiese kerk)

Gedurende die Romeinse tyd kom die gebruik van die boog en koepels tot sy reg. Die styl het reeds so vroeg as 3 000 VC in Babelonië bestaan. Die Palatynse Kapel in Palermo is 'n voorbeeld van 'n gebou waar die Bisantynse styl pragtig verteenwoordig word.

Nog 'n belangrike styl is die Gotiese. Dit is onderskeibaar deur die besondere hoë spitstorings, groepe pilare, baie hoë boë en veelvuldige kleiner versierings en toringkies aan stutmure. Hierdie styl vier hoogty in die 13de en 14de eeue en talle katedrale was in dié styl gebou.

   
In die moderne tyd het die ontwikkeling van bronne soos metaal, staal, beton en allerlei ander soort materiale met unieke en sterk kwaliteite, die bou van besondere strukture en geboue moontlik gemaak. Kragtige en groot strukture soos die Panama-kanaal, die Niagara-kragstasies, ruimtesentrums soos dié ene in Houston en die Internasionale Ruimtestasie, die Kanaaltonnel tussen Engeland en Frankryk onderdeur die Engelse Kanaal en talle soortgelyke groot stukture word nou al hoe meer alledaags.

Besondere ontwikkelings, in bv die bou van baie hoë geboue op ronde albastervormige stutte of vere, wat skokke en aardbewingsgolwe gedeeltelik kan absorbeer, maak dat wolkekrabbers in aardbewings-geteisterde gebiede, die skokgolwe met heelwat beter sukses kan hanteer as voorheen.

 
Omgewingsbewarings-pogings het ook reuse strukture soos groot windlaaiers en sonkragopwekkers laat ontstaan. Gewone woonhuise maak ook deesdae al hoe meer gebruik van energiebesparende ontwikkelings soos dakpanele vir die deurlating van natuurlike lig en sonpanele vir kragopwekking. Kweekhuise vir die produseer van voedsel word ook al hoe meer doeltreffend gebruik. Dit is die goeie beplanning van sulke biologiese sfere of kweekruimtes wat beter resultate met voedselproduksie al hoe suksesvoller maak.


Kliek foto vir groter weergawe
Pierre Laporte Brug

 
Die woord argitektuur is afgelei van die Griekse woord arkitekton (meesterbouer). Argitektuur word juis in daardie sin ook gebruik in talle ander gebiede. Die hooftoepassing van die uitdrukking verwys gewoonlik na die opgeboude omgewing, maar die omvang van die woord is uitgebrei na die kuns en dissipline vir skepping van 'n plan vir enige ingewikkelde voorwerp of stelsel. So word daar rekenaar-argitektuur gevind in beide die harde- en sagteware omgewings, sowel as die Internet-diensverskaffings areas. 'n Mens se persoonlike rekenaar of werkstasie het sy eie argitektuur en so ook al die netwerke en databasisse rondom dit. Die kommunikasiewese bestaan grootliks uit sulke argitekture. Dit kan ook verwys na die implisiete argitektuur van wiskunde of abstrakte dinge soos musiek, die oënskynlike argitektuur van natuurlike dinge, soos geologiese formasies of biologiese selle, of mensgemaakte dinge soos organisasies. In elke geval word 'n argitektuur gesien as 'n subjektiewe menslike perspektief van die verwantskappe tussen die komponente van 'n soort struktuur of stelsel.

Argitektuur omsluit dus nie net die styl en bou van geboue in nie, maar is die wetenskap van die ontwerp, bou, skepping of waarneming van strukture, hetsy fisies of abstrak.

 
Lees meer oor Stede
Lees meer oor Brûe
Lees meer oor Kastele
Lees meer oor Vuurtorings
Lees meer oor Pretparkstrukture
 

 

 

 

 Bybels
 Lees
 Lees 2
 Lees 3
 Lees 4
 Lees 5
 Lees 6
 Rekenaar
 Rekenaar 2
 Rekenaar 3
 Reken nou net
 Reken nou net 2
 Reken nou net 3
 Reken nou net 4
 Reken nou net 5
 Reken nou net 6
 Reken nou net 7
 Reken nou net 8
 Reken nou net 9
 Reken nou net 10
 Reken nou net 11
 Reken nou net 12
 Reken nou net 13
 Reken nou net 14
 Swartlys

 Dienste
 Gebeure
 Help
 Poste
 Produkte
 Skole
 Vermaak

 Mediakaart
 ADSA
 Media Map

 Bibles
 Computer
 Computer 2
 Computer 3
 Read
 Read 2
 Read 3
 Read 4
 Read 5
 Read 6
 Blacklist

 Entertainment
 Events
 Help
 Jobs
 Products
 Schools
 Services

Op|UpBiblesBybelsLees|ReadLees 2|Read 2Lees 3|Read 3Lees 4|Read 4Lees 5|Read 5Lees 6|Read 6Rekenaar|ComputerRekenaar 2|Computer 2Rekenaar 3|Computer 3Reken nou net!Reken nou net! 2Reken nou net! 3Reken nou net! 4Reken nou net! 5Reken nou net! 6Reken nou net! 7Reken nou net! 8Reken nou net! 9Reken nou net! 10Reken nou net! 11Reken nou net! 12Reken nou net! 13Reken nou net! 14

ADSA Werfkaart | ADSA Site Map

     
 

 Download Bibles

Bybels vir Aflaai

 

ADSA vir Klein Advertensies

ADSA © 1998-2008
Verontskuldiging ** Disclaimer

ADSA for Small Ads