|
Daar is ook unieke plante wat selde
blom, soos bv. die blou Brasiliaanse Amyrillis (Empress of Brazil) wat
glo net om en by elke 57 jaar blom. Party orgideë se blomtye is ook ver
uit mekaar. Dan is daar ook woestynplante soos die eeuplant (Agave) wat
net een keer in sy leeftyd blom. Dus dit neem ongeveer 25 na 30 jaar om
te blom en vrek dan kort na die blomperiode. Nog 'n plant wat lank neem
om te blom is die koningin van die Andes. Hierdie plant neem tussen 80
en 125 jaar voor dit blom, dis te sê as dit in sy natuurlike omgewing
is. Lees meer oor hierdie rare plant met die botaniese naam Puya
raimondii by
San Francisco se Botaniese Tuin.
Bome, rankers, struike, lelies, jaarplante, rotstuin
of sg. vetplante en huisplante dra meestal almal pragtige blomme.
Veldblomme kom nog in groot dele van die wêreld se park-areas voor en
ander gewilde blomsoorte, soos bv. angeliere, word dikwels in kweekhuise,
tuine en in huishoudings gekweek en versorg.
Sommige plante soos rose, vaar beter wanneer 'n
steggie gebruik word, maar andere soos die Namakwalandse Madeliefies,
pronkertjies, Jakobregop's (Zinnia) en kappertjies kan baie maklik met
sukses van saad af gekweek word.
Blomme en die gebruik van blomme is al vir eeue aan
die gang. Daar is afbeeldings van blomme op suile van antieke stede en
op ruïnes gevind en beide die Ou en Nuwe Testament noem oa lelies.
Hoewel blomme hoofsaaklik vir versierings gebruik word, het blomme ook
simboliese en praktiese doel.
So dra sekere blomme simboliese betekenis wat ons aan Bybelse temas
laat dink. Daar is plante met name soos: Jesuskroon, in Engels genoem
"Crown of thorns" (Euphorbia milii), wat geel, maar ook helder rooi, blomme
dra. Hierdie plante kan in die mees haglikste omstandighede en klimate
oorleef. Dan is daar die blom van die ranker-vrugplant, die granadilla
(ook bekend as grenadella, "passion fruit") en ander blomme soos die purperwinde ("Morning glory"), wat
ook bekend staan as Maria se mantel, die 10-gebooieplant, asook die
Madonnalelies, ook genoem St Josefslelies, wat met Paasfees geassosieer word.
Gedurende die Victoriaanse tyd het simboliek van
blomme (blomme-boodskappies) 'n hoogty gevier. Klein handruikertjies,
bekend as Tussie-Mussies is gretig as geskenkies gegee. Die ruikertjie
was toegevou in 'n kant-doilietjie en vasgebind met 'n satynlintjie. Die
soort blommetjies waaruit die ruikertjies bestaan het, het dan die
simboliek van die boodskap uitgedra.
Blomme van veral kruiesoorte, word gebruik as
geneesmiddels en dit is ook bekend dat sommige blomme eetbaar is en deel
kan uitmaak van disse. Die blomme van roosblare,
appelbloeisels, en viooltjie-soorte, kan dien as pragtige nagereg- of
koekgarnering. Die Romeine het bv. aan hul vleis- en slaaidisse smaak
verleen deur die gebruik van gousblomme (Calendula) gemeng met asyn.
Gevulde pampoenbloeisels is 'n gunsteling by sommige Romaanse bevolkings
en waterblommetjiebredie is 'n bekende Suid-Afrikaanse dis.
Nie alle blomme en plante is eetbaar nie. Party is
uiters giftig. In hierdie groep is daar oa Asaleas, Caladium, Varkore
(Calla) lelies, die pragtige en veelsydige Lemoenklimop (Clematis),
Affodille, Pronkridderspoor (Delphinium), Jasmyn, Lantana, Lelie-van-die-veld (Convallaria majalis), die bekende huisplant Philodendron,
Alperoos of Rododendron, Pronkertjies, Bloureën (Wisteria) en die
Brunfelsia (Gister-vandag-en-môre-struik) met sy baie-baie soet reuk, om
maar net enkeles te noem.
Blomme het groot byval gevind by ou beskawings en kulture. Die Chinese
het krisante (Chrysanthemums) so lank as 2500 jaar, voor dit in Europa
begin bekend word het, in hul koninklike tuine gekweek. Tesame met die
kersie, bamboes en orgidee, was dit so hoog aangeslaan dat die sg. laer
klasse verbied was om die plante in hul eie tuine te kweek.
'n Blomsoort wat amper soos die krisant lyk, maar van
'n heel ander wêrelddeel kom, is die Dahlia. Die Dahlia was bekend by die Asteke vir medisinale eienskappe en dit is
vandag die nasionale blom van Mexiko. Hierdie blomgroep varieer in grote
en kleur en word veral in kweekhuise geproduseer. Sommige soorte Dahlias
is afkomstig uit Guatemala. Hierdie groep
blomme kry hul naam vanaf die Sweedse botanikus Dr. Anders Dahl en daar
is tans ongeveer 20 verskillende spesies.
Delphiniums was gebruik deur Indiaanse bevolkings aan
die weskus van die Amerikaanse kontinente vir blou kleursel en die
Europese setlaars in die Amerikas het dieselfde blom gebruik om ink te
maak vir skryfdoeleindes. Nog
'n pragtige regop soort blom, soos die Delphinium, is die Swaardlelies
(Gladiolus). In die 18de eeu is baie van hierdie besondere blomme vanuit
Suid-Afrika na Europa uitgevoer. Dié blomme voer nog steeds die botoon
waar indrukwekkende ruikers geskep word vir koninklike of ander
amptelike geleenthede. Die variante wat nou deesdae op die mark te siene
is, is pragtig en selfs 'n leek kan dié mooi blomme aan die groei en
blom kry. Irisse is nog 'n baie
besondere groep. Daar is soveel soorte en party van hulle kan ook in
dele waar dit moerasagtig of nat is, geplant word. Die Afrikaanse name
vir 'n aantal van die blomme in hierdie groep is baie mooi. Daar is bv
name soos: kammetjies, ferweeltjie, aandblomme, bobbejaantjies, pypies
en kalkoentjies. As Irisse ter sprake kom, dink mens onvermydelik ook
aan die geskiedenis waar die Fleur-de-Lis deel van die Franse koning
(Philip 1) van
die 11de eeu se embleem uitgemaak het.
Verskeie variante van Fleur-de-Lis pryk deesdae nog op
baie heraldiese wapens en vlae soos dié van Quebec, Louisville
(Kentucky), New Orleans (Louisiana), die Boy Scouts van Amerika, Laško
(Slovenia) en die flambojante rooi heraldiese wapen van Florence in
Italië. Simboliese betekenis soos
geloof, hoop en wysheid word aan die Iris gekoppel. Vir meer inligting
besoek Anthem Flag.
Lelies is een van die mees indrukwekkende groepe wat
asemrowende blomme dra. Lede in hierdie groep is Haworthia, aalwyn
(Aloe), Kniphofia (vuurpyl) en bulbine (katstert) Dan is daar ook oa
die lede van die Amaryllis-familie, soos die Maartlelie (Amaryllis
belladonna), die Nerina (Narine sarniensis) en die baie besonder Clivia
Nobilis. Lees meer oor lelies by: Lieflike
Lelies Tulpe het ontsaglik
baie soorte en kleure met 'n heerlike geskiedenis van ontwikkeling. Lees
meer hieroor by Top Tien Tulpe.
Rose was en is en bly een van die mees geliefde
blomsoorte en is vandag se dae nog meer gewild as ooit te vore. By
troues, feesvier-tye, die geboorte van 'n kind, verjaardae en natuurlik
ook by spoggeleenthede. Rose was baie deur die Romeine gebruik en
roosblare was oral gestrooi vir feesgeleenthede. In die Middeleeue was
daar die gebruik om 'n roos aan die plafon te hang by 'n
raadsvergadering. Dit het beteken dat almal teenwoordig tot geheim
gedwing word, ook bekend as "sub Rosa", wat beteken, "onder die roos".
Lees meer by Romantiese Rose.
Die orgidee verdien melding. Dié rare blomme jaag
versamelaars duisende rande uit die sak en die plante se besondere
blomme maak hulle al hoe meer gewild. Vroeër was orgideë plante wat net
deur versamelaar en kenners gekweek is, maar deesdae word al hoe meer
van hierdie besondere blomme deur die publiek aangekoop en as spogplante
in huise vertoon. Fuchisas word
deesdae ook baie gewild. Hierdie plante se blomme varieer, maar baie lyk
soos ballerinas met wye rokkies. Die kleure is meestal pienk, ligpers en
rooi, maar sagte ligroos en wit is ook te kry.
Die gewildheid en veelsydigheid van blomme word oral
gesien in kulture. Of dit nou papawers, botterblomme, kappertjies,
gousblomme, ranonkels, gesiggies, viooltjies, of afrikanertjies is, of
unieke blomme soos die Babertonse madeliefies, strelitzias, anemone,
asaleas, hiasinte, tierlelies, pronkertjies, akelei (aquilegia),
agapanthus of swaardlelies. Blomme word oral in huise en tuine aangetref.
Vanaf die pragtige blomkersiebome en magnolias, tot rankers soos die
besondere wasplant (hoya), die jasmyn, bougainvillea of wisteria en tot
die fynste grondbedekkertjies soos die alyssums of rotsjasmyn
(androsace) bly geliefd.
Persone gebruik dit in digkuns, beeldende kunste en musiek. Sommiges gee
hul dogters blomname soos Aster, Iris, Rosa of Rose, Daisy, Lily,
Violette of Violet en Lila. Blompatrone word geborduur, gehekel, gebrei
en op materiale ontwerp of geverf. Blomme word gedroog vir potpourri of
gepars vir kaartjies of prente. Daar is pragtige teken- en skilderwerk
van veldblomme, botaniese werke, sowel as kunswerke en daar is keramiek,
porselein en tapisserieë, almal versier met blompatrone.
Blomme is 'n heerlike geskenk, kan bydra tot
vertroosting, maak die hart bly as die liggaam moeg of siek is en vul
die lug met heerlike geure. Blomme bly 'n lus vir die oog en 'n vreugde
vir die hart. |